|
library
Gee braaivleis jou plooie?
Dis nie onmoontlik nie!
Dit kan klink na ‘n lawwe vraag maar is heelwat minder verregaande as wat dit klink….behalwa as die vuur net nooit reg wil brand nie…dan’s dit natuurlik die oorsaak van die plooi op jou voorkop.
Die term ‘ glycation’ of kom ons noem dit GLUKOSERING verwys na die verbinding wat ontstaan tussen glukose of suikers en proteïene. Hierdie proses vind byvoorbeeld plaas as mens brood rooster – en dit verbruin. Die proses vind ook in die liggaam plaas. En dit is waar die braaivleis –en plooi kwessie ontstaan. Om dit eenvoudig te stel, veroorsaak hierdie verbindings wat in die liggaam ontstaan probleme. Dit maak vel minder ‘elasties’ – en dit plooi of kreukel dus meer. Dit maak natuuurlik allerhande ander dinge in die liggaam minder elasties – soos are…. Beteken dit mens moenie braaivleis eet nie? Inderdaad nie. Maar dit is raadsaam om bietjie te kyk na jou ‘ lading’ van hierdie verbinding in jou dieet. Veral diabete moet ekstra aandag gee. Wat moet mens vermy om die ‘lading’ te verlig: Die mees belangrike is om minder suiker te eet, genoeg water te drink en vars groente saam met elke maaltyd te eet – veral saam met maaltye wat vleis bevat! Ander punte van belang sluit in: Sorg dat jy só eet dat jou bloedsuiker stabiel is – en dit beteken NIE jy moet weglê aan LOW GI brood nie. Eet dus minder suiker en stysel, verwerkte en kitskosse, kitsontbytgrane. Eet by elke maaltyd groente – en probeer dit dikwels rou eet. Anders gestoom. Dit hoef nie vervelig te wees nie - gooi dit in die bredie! Verminder jou gebruik van verwerkte en pakkies kosse – souse is ‘n groot potensiële probleem - veral waar dit baie suiker bevat en gebruik word om bv. saam met vleis voor te berei. ‘n Maklike manier om te weet of jy moeilikheid het met ‘n produk is wanneer dit veroorsaak dat jou hoenderboutjies, tjoppies of ribbetjies makliker brand! Maak vleis gaar met laer temperature soos bv. bredies of stadig in die oond met ‘n toe deksel – eerder as om dit oor hoë hitte in ‘n pan gaar te maak. Vermy veral ingevoerde produkte wat die bestandeel ‘ high fructose corn syrup – kyk veral na lekkergoed, sommige koeldranke, en selfs items soos mayonaise. Drink genoeg water – dit help die liggaam om van onsuiwerhede ontslae te raak. Moenie rook nie.
|
|